In 'n gesprek met 'n
dominee op die platteland kom die volgende na vore(Ek vul ook verder
aan uit ander gesprekke):
Daar is plekke waar
mense kerk hou sonder dat daar baie Bybelse opleiding bestaan. Die
kerk bestaan dus en daar is baie entoesiastiese lidmate, maar hulle
hang ook talle tradisies aan. Veral by plekke soos begrafnisse is
daar rituele wat na drie dae gebeur en van die gerekende sterk
christene in die gemeente neem daaraan deel en leer ook die ander
lidmate om dit te doen. Dit gebeur ook telkens dat die kerk
gekonfronteer word met mense wat vreesagtig raak wanneer daar siektes
en ander uitdagings is. Dikwels word daar dus terug gegryp na
traditionele medisyne. Hierdie tradisies kom oor baie geslagte en
word nie sommer net verander nie. Dit maak dat jy as dominee inkom in
'n situasie waar jy nie inpas nie. Aan die een kant die mense hulle
gebruike en dan aan die ander kant die koninkryk wat anders lyk.
Die tweede uitdaging
is dat baie kerkies reeds bestaande leierskap het wat vir jare
aangepas is om aanvaarbaar te wees vir die mense. Dikwels is dit
hierdie leierskap wat sekere nie-bybelse gebruike voorstaan en leer.
Nou kom die nuwe jong dominee in en is onmiddelik in 'n baie
sensitiewe situasie. Hy wil nie die mense verloor nie, maar hy kan
ook nie die gebruike goedkeur nie. Baie keer as die dominee min
ondervinding het word die proses verkeerd begin en as die aanvaarding
verloor is, dan kry die dominee regtig swaar. Hy is veronderstel om
deur die mense onderhou te word en nou werk die verhouding nie. Sulke
verhoudings word baie moeilik weer herstel. Ander dominees begin nou
eers meer wysheid opbou en benader die proses met baie meer ervaring.
Die proses van verandering gebeur dikwels nog stadig, maar die mense
word nie verloor nie. (onsensitiewe besoekers kan dikwels die proses
skade berokken). Die dominee word nou bo die ouderling aangestel wat
daar was en kry soms hulp van buite wat die ouderling nie gekry het
nie. Dit is goed wat hulle verhouding baie keer in die wiele ry.
Dikwels kom mense vir opleiding, want hulle het die verwagting dat as
hy bv as 'n sondagskool onderwyser 'n sertifikaat het, dan gaan hy
betaal word vir die werk wat hy gaan doen. Hy is baie entoesiasties
en doen vreeslik goed, maar as die betaling op die ou end nie kom
nie, dan verdwyn die onderwyser ook.
Ek kom by 'n dominee
in sy gemeente en nie lank nie en ontstelde gemeentelede vertel my
van die dominee se vrou wat vreeslik kwaad is vir hom. In die
spesifieke geval het die vrou al twee keer probeer om selfmoord te
pleeg en kan mens agterkom sy is in 'n ernstige depressie waar sy nie
sonder hulp sal kan uitkom nie. Ek is nie veronderstel om iets
daarvan te weet nie en kan dus niks doen nie. Hoop om vorentoe die
gaping te kan skep om te kan help. Kan jy jouself nou indink dat as
jy in die druk situasie is en jou gesinslewe is ook onder druk. Jou
vrou wil wegloop na haar ma toe en die kinders kry swaar. Meer as die
helfde van die dominees sukkel met huweliksprobleme.
Dit maak dit vir my
baie duidelik dat die jeugwerk in Mosambiek hierdie twee aspekte ook
in ag moet neem. Een is traditionele gebruike, die verstaan daarvan
en 'n Bybelse alternatief wat geloofwaardig en aanvaarbaar is.
Tweedens verhoudingings waarvan die huwelik die basis menslike
verhouding word.
Die derde aspek het
ek nie nou oor gepraat nie, maar dit is dat daar 'n atmosfeer van
dissipelskap sal wees wat verstaan en geleef word.
No comments:
Post a Comment