Handevat

Bou 'n Christus gebasseerde roeping vir Afrika

Wat is die Here se wil vir ons vir vandag hier in die Suidpunt
van Afrika? Hoe lyk Sy wil in verskillende omstandighede?

Friday, August 8, 2014

Wêreld van Mosambiekse dominee

(Ter wille van vertroulikheid, is die persone in die foto's nie dieselfde as die persone waaroor ek skryf nie. Ek kombineer ook soms ervaringe.)

Verhoudings is geweldig belangrik om in Mosambiek te kan oorleef. Om sleg gesê te word of beledig te word, is om dood gemaak te word. Jou lewe hang af van jou verhoudings. Aan die ander kant bring God se koninkryk jou in konflik met jou gemeenskap.
"Ek is gestuur na die gemeenskap en ek weet God het my hierheen geroep" sê 'n dominee vir wie ek bewonder. "Die mense hier behoort al lank aan die kerk, maar weens afstand, was hier nog nooit 'n permanente dominee nie. Die dominees wat hier gekom het, was op kort besoeke en het nie werklike verhoudinge gebou met die gemeenskap nie. Nou begin ek verhoudinge bou en ontdek dat daar baie gebruike is wat uit 'n tradisionele geloofs tradisies voorkom. Mense hou bv groot seremonies drie dae na 'n begrafnis waar offers vir voorvaders gegee word. Ek kan nie net inspring en vir hulle vertel hulle is verkeerd nie, want die gebruike gaan saam met diep oortuiginge en emosies. Volgens die tradisies, mag die gebruike nie verander word nie. Indien jy dit verander dan versteur jy die verhoudinge met die geesteswêreld en veroorsaak dit konflik en dood. Mense is dus vreeslik bang om aan die gebruike te verander. Die een wat wel teen die gebruike optree, is dan ook die oorsaak van dood, pyn en alles wat negatief is. Hy staan dan teen die gemeenskap en is sleg. Om in die gemeenskap te kan werk, moet ek mense se vertroue wen en deel word van die gemeenskap. Aan die ander kant is mense mislei en moet gehelp en bevry word deur Christus. Om te vinnig die gebruike te probeer verander, gaan ek die mense en die verhoudinge verloor, wat sal maak dat ek nie hier sal kan werk nie. Die strategie wat die Here vir my gee is om verhoudinge as breekbaar te hanteer en die Bybelse lering te gee. Oor tyd glo ek die Heilige Gees sal verstande verlig om te sien wat is waar en dan kan mense begin om van hulle kant af besluite te neem."

 
Hy vertel verder: "Voor ek hier aangekom het, was 'n ouderling in beheer van die gemeenskap. Hy is familie van hulle en het 'n vertrouensverhouding van sy geboorte af en vanuit 'n geestelike tradisie met mense. Hy het wonderlike inisiatiewe geneem, maar het ook sekere tradisionele gebruike bly aanhang. Hy en sy familie het sterk leiers geword. As ek nou as leier by hom gaan oorvat, gaan hy seerkry en kan hy negatief optree. Dit is baie maklik vir hom om my uit te werk, want hy het die gemeenskap aan sy kant. Ek moet dus met baie wysheid optree sodat hy met tyd sy posisie in die gemeente kan vind nadat ek op die toneel verskyn het. Ek is die een wat sakramente kan bedien en hy kan nie. My koms gaan sy posisie ernstig raak veral as mense begin ontdek dat die tradisionele gebruike wat hy aanhang vervang moet word met 'n lewe uit die geloof in die ware God. Die Here help my met stategie"
'n Dominee vertel ook: "Die verhoudinge met ouderlinge is belangrik. Die werk van die Here geskied deur my verhouding met hulle. Die verhouding maak of breek die werk. Ek moet 'n area met amper tien kerkies bedien en die afstand wat ek met voet moet aflê is soms naby 'n 100km. Om dit te doen moet mens twee nagte langs die pad oorslaap. Soms by mense wat ek ken, maar andersins iewers langs die pad. Soms is daar vervoer moontlikhede, maar dikwels is dit maar te voet. Daar is twee uitdagings in die gemeente. Mense het uit die geskiedenis nog nooit geleer om met die buur kerkies van dieselfde gemeente saam te werk nie. Mense besoek net eenvoudig nie ander kerkies nie. Ek kan dus nie mense saam roep na een plek en verwag om 'n gesamentlike byeenkoms te hou nie. Verder kom mense nie vir opleiding nie. Verlede maand het ek 86km ver geloop vir opleiding, dit het my drie dae se stap geneem. Ek sukkel self met ongesteldhede en sukkel om die krag te hê vir die afstande, maar die Here kry my daar. Daar aangekom, is daar niemand nie. Ek wag maar drie dae, maak 'n ander afspraak en stap dan terug. Die ouderlinge belowe om my taxi geld te betaal as ek geld leen. Ek leen dus geld en ry met die taxi weer soontoe. Daar aangekom is daar weer niemand. Ek moes toe maar weer terug stap. Ek was baie moedeloos, maar besoekers uit RSA het my in so mate aangemoedig dat ek weer moed geskep het en weer strategieë kon beplan oor wat my volgende optredes sal wees. Ek gaan nou weer by al die kerkies om stap en die sake met hulle deurpraat."
In nog 'n gesprek vertel die dominee: "Ons as dominees moet gemeenskappe help om vir mekaar om te gee en mekaar te help. Baie word siek en verhoudings kry seer en dit is geleenthede vir ons om vir mense by Jesus as die eienaar van verhoudings te gaan aanklop en te help. Waar ek kan, ry ek mense met my motorfietsie aan hospitaal toe, bid vir mense en huil saam met mense wat met die dood en siektes gekonfronteer word. Hier gaan dit veral daaroor dat sommige uitgewerp word uit die samelewing. Ek moet dikwels die een wat uigewerp word gaan help, maar daar loop jy die risiko om saam uitgegooi te word. Dit is nie lekker nie. Ons is dikwels nog steeds kleingelowig en bang vir uitwerping. Ons word ook siek en het die gemeenskap nodig om ons te help anders gaan ons dood. Ons is afhanklik van ons gemeenskap en ons is dikwels buite bereik van ons eie familie af. Die lidmate moet ons help met kos, klere en huis, maar omdat ons verhoudinge het met mense in RSA dink mense ons is skat ryk en het geen behoeftes en materiële hulp nodig nie. Vriende help mos mekaar en ons het mos ryk vriende. Dit is baie moeilik om mense se respek te behou, maar ook vir hulle te laat verstaan dat ons soms geen hulp kry nie. Dit gaan nog lank vat. Soms sit ons met die mielies uit ons eie landery, maar het ons nie geld om dit te maal nie."
Die vrouens van dominees kry baie swaar. Die lewe is moeilik met water wat aangedra moet word, klere en skottelgoed wat met hand gewas word, baie swak mediese hulp, nie gebalanseerd kan eet nie, ver te wees van familie, in 'n ander kultuur en taal te leef, ens. Sielkundiges het bewys dat om in 'n ander taal en kultuur te funksioneer drie keer groter spanning veroorsaak as 'n maksimum hanteerbare spanning. Ek weet van 'n vrou van 'n dominee wat hulle nou al drie keer in die kasava landery gekry is met 'n mes omdat sy selfmoord wil pleeg.

Ten spyte van soveel uitdagings word ek elke keer aangemoedig deur deursettingsvermoeë wat die Here vir mense bonatuurlik gee.

No comments:

Post a Comment