Handevat

Bou 'n Christus gebasseerde roeping vir Afrika

Wat is die Here se wil vir ons vir vandag hier in die Suidpunt
van Afrika? Hoe lyk Sy wil in verskillende omstandighede?

Monday, June 2, 2014

Besonderse mense is vir my tot 'n seën

SONDAG SE PLAASBEDIENING

Sondag is ons weer na die skooltjie tussen die plase langs die Bottelary pad. My pa en ma is ook daar en bring vir Anna en Jeanette saam. Hulle getuig van verlossing uit verslawing van drank, dagga en rowwe lewens.

Hier staan my ma en pa Anna met die wit kopdoek en Jeanette met die swart kopdoek. Hulle lyk baie ernstig hier, ons het seker oor 'n groot uitdaging gesels.

Die trane het geloop met hulle getuienis en ek glo dat dit 'n geweldige indruk moes maak op die mense. Jeanette het vertel hoe die Here die spirits so bitter gemaak het dat sy dit nie eers met koffie kon inkry nie en dit het haar lewe gered.

Die ander ding waarmee die Here met haar gepraat het is dat sy nie meer 'n ma vir haar kinders was nie. Hulle was baie keer honger en verwaarloos. Dan het albei 'n getuienis van 'n kragdadige bekering wat hulle lewens tot in die wese verander het. Hoe hulle ontdek het dat hulle nie kan nie, maar 'n Here dien wat deur Sy gees wonderwerke gedoen het. Genade onbeskryflik groot.

In die kar praat hulle oor baie seerkry in hulle lewens en hoe hulle nie daaroor kan kom nie. Ons praat van hoe mens vir die Here kan kwaad word en dat dit deel van ons verhouding met Hom is. Hoe eerliker ons is, hoe meer van ons hart kan ons met Hom deel en Hy wil deur die seerkry nader kom aan ons. Hy is nie veroordelend nie.

Ons besoek 'n huis van 'n jong man wat verslaaf is aan tik dagga en dra bende tattoeer merke. Hy wil graag bevry word daarvan, maar sy pa raak net kwaad vir hom en help hom nie. Ek sit in die sink huisie langs hom op die bed en bid vir hom en gesels eerlik soos net hulle kan doen. Hy kom agter ek is aan sy kant en ek dink dit is die grootste boodskap. Net soos ek aan sy kant is, is die Here ook aan sy kant. Hy deel die stryd met hom. Hy het die week vir die eerste keer reg gekry om nie saam met sy vriende se verslaafde partytjies toe te gaan nie, maar om by die huis te bly.


Handevat begin maar nou eers sy voete vind. Veral in die begin tyd, moet mens ure in vergaderings sit. Dit is baie bevrydend dat mens nou ook al meer met uitreike betrokke raak, want dit is daar waar ons as gemeentes iets kan ervaar van die nood rondom ons. Dit is onder andere daar waar ons leiers kan bystaan en die rimpelings van God se koninkryk kan sien beweeg.

No comments:

Post a Comment