Handevat

Bou 'n Christus gebasseerde roeping vir Afrika

Wat is die Here se wil vir ons vir vandag hier in die Suidpunt
van Afrika? Hoe lyk Sy wil in verskillende omstandighede?

Tuesday, November 18, 2014

Besonderse teenwoordigheid van die Here in Pebane en Derre

Dit is lekker warm en Wynand is daar in die rivier in die water tydens ons middagete. Ons het gehoor dat ds Velasco Acasio nie meer bly waar hy gebly het nie. In die omgewing waar ons gehoor het hy is, kry ons hom glad nie. Ons ry toe na die kerkie wat die naaste is aan Mulela self. Die roete vat ons op twee spoor paadjies wat later verdwyn en ons ry deur die bos tot daar. Die mense skrik hulle boeglam en hardloop weg. Na baie gelag oor die skrikmaak, hoor ons toe dat die kerkie nie meer bestaan nie, maar dat die ds in die dorpie self is. So is ons terug na die dorpie en na navraag kom ons by sy huis uit. Hy is nie daar nie en ons moes 2 ure vir hom wag. Dit gebruik ons deurdat die Moslem buurman ons rivier toe begelei en ons daar gaan swem om af te koel, alhoewel die water so warm is, mens koel net af as jy uitklim.
Ds Acasio daag op en daar is groot vreugde, hulle het net die oggend gewonder wanneer ek hulle weer gaan besoek. Gelukkig het ons 'n hoender in Ile present gekry. Ons kon nie ooreenstem of dit dit 'n haan of hen is nie, maar ons het dit agter in die bak gelaai in 'n sak en noem dit Leslie. By die rivier verdrink Leslie twee keer amper. Ons wou nie die arme hoender in die warm kar los nie, want dan sou dit in elk geval nie kon oorleef, so Leslie is saam rivier toe. In die skaduwee langs die rivier spring Leslie op 'n stadium op met sak en al en beland in die water. Gelukkig kon Wynand sy/haar lewe red. Terwyl ons vuur maak en weg kyk beland Leslie weer in die water en ek weet nie vir hoe lank nie, maar toe ek hom/haar uithaal en bietjie skud toe kom daar gelukkig nog geluide uit die sak. Normaalweg moet sy kop deur 'n gat in die sak buite uitsteek, maar in die proses het die sak gedraai.
LESLIE
Leslie was 'n groot uitkoms van die familie van Acasio, want hulle het geen bykos in die huis om vir ons te gee nie en daar word Leslie se lewe ook beeindig en eet ons vir Leslie op die aand. Vir die volgende dag het ons 'n blikkie ham en bietjie olie gegee vir bykos sodat hulle dit in skywe kan sny en bietjie braai oor die vuur om saam met die pap te eet.
Ons verwonder ons aan die deursettingsvermoee van daardie familie, want hulle moes 'n paar groot teleurstellings deurleef. Hulle het katoen gekweek, maar die man wat dit koordineer het vergeet om vir hulle te se toe dit opgekoop is. Hy moes dit weggooi. Die Moslem geloof maak dit nog moeiliker om aanvaarding in die gemeenskap te kry. Met dit alles, bly hulle blymoedig en kon ons baie deel oor swaarkry en God wat in Jesus swaarkry ken en dit met ons deel en ons daardeur sal dra. Ons deel met mekaar tye van twyfel en deurbrake.
Ons ry uit na een van die senters en daar kon ons vir 'n drie ure lekker met die paar mense wat daar was gesels oor geloof en hoe om vir Moslems lief te wees en hulle te dien. Dan ook Dawid en Goliat se storie en Wynand wat lekker groot gebou is, word toe Goliat. Ons praat oor soldate wat net die reus sien en 'n seun Dawid wat meer sien en deur God gebruik word om die vyand op die vlug te laat slaan. Sy visie deur geloof.
Sondag is ons na die ander senter en moes ek die boodskap bring. Ek wou kort preek, maar dit is meevoerend as die Gees van God met mense begin werk.
Ons vertek eers na 'n ete en moet toe deurdruk tot by Dere waar ons in die donker aankom. Ds Dionisio Cinco Reis (Vyf konings) is baie rustiger as die ander dominees. Ons kry 'n ete en dit gaan bietjie beter in die huis omdat hy 'n vennoot in RSA het wat hom help met R500 per maand. Die volgende dag word ek gevra om toerusting te gee en dit doen ons die hele dag. Weer neem die Gees oor en kort kort is ons vreugde groot om te sien hoe Hy werk. Die dominee het bv sekere stellings gemaak oor tradisies en die mense het geworstel om dit te aanvaar. Ek het “toevallig” dieselfde stellings gemaak vanuit 'n ander hoek. Later het die sterkste ouderling opgestaan en dankie gese, want ek het dieselfde goed as hulle dominee gesê en nou weet hy dit is waar. Ek lê ook baie klem op die roeping van die gemeente om die gemeenskap lief te hê en te help anders is ons nie kerk nie. Wat vir my lekker was om te sien is dat die mense die agenda van die gesprek op die tafel sit. Ek vra hulle uit oor die gemeente en die omgewing en hulle lewens. Daaruit kom die onderwerpe op die agenda en so betrek die Here hulle in Sy proses. Dit is in elk geval hoe ek dit beleef het. Ds Dionisio het na die tyd sy hart oopgemaak en vertel van hoe die Here hom op talle maniere deur drome gehelp het en verdere persoonlike stories vertel. Die man het 'n baie goeie kennis van die Bybel en regtig 'n goeie teologiese verstaan daarvan. Dit kan wees dat die gemeente nou weer nuwe rigting gekry het.

Dit bly regtig 'n ongelooflike voorreg om die werk te kan doen en Wynand beleef dit ook as 'n baie verrykende ervaring! Hy sê ook: The first of many to come!

Thursday, November 13, 2014

Huisbesoek in Ile (Errego)

Die eerste huis was uur se ry aan 10 km en daarna 'n halfuur se loop deur riviere en oor klippe, In die gesprek daar onder die boom praat ons oor elke persoon se roeping en hoe die Here vir elkeen 'n werkie het om te doen. Ek vra to die ouderling uit oor sy lewe en in die proses hoor ek dat hy voel die Here roep hom om mense te help wat gepla word deur drome en slegte geeste. Hy bevestig toe teen die einde dat dit die rede is waarom hy in daardie area is.
By 'n ander huis vind ons 'n vrou wie se man haar gelos het en sy het 'n besigheidjie op die mark om vir vier kinders te sorg. Sy vind toe uit dat sy die gawe gekry het om met kinders te werk. Op die vraag of sy nie vir meer as haar eie kinders kan help nie is sy toe baie positief. Sy het onmiddelik oopgemaak en gevoel dit is haar deel van kerkwees. Sy sal kinders kan begelei in talle geestelike waardes en wanneer hulle deur puberteit gaan ens. Sy sal vir hulle mama wees, want baie het nie 'n regte voorbeeld van waaroor die lewe gaan nie.
By 'n ander huis was ek reeds voorheen saam met ds Ualize. Dit was die man wat nie kon bid nie en hoe hy vertel het van die droom oor die man wat onregverdig dood gemaak is en toe weer opgestaan het. Eers 10 jaar later het hy by 'n sendeling gehoor dat die man Jesus is. Vandag het hy vir ons van baie meer baie interesante drome vertel. Ons probeer hom toe help om te bid deur hom reeltjie vir reeltjie voor te se. Skielik trek hy toe los en praat met die Here soos hy nog nooit in sy lewe kon doen nie. Toe hy amen se is ons al drie op die been en word daar gedans dat die stof so staan.
By 'n ander kerkie praat ons met 'n ouderling wat kla dat die mans nie meer kerk toe kom nie. Hulle is besigheidsmense wat Sondae ook funksioneer. Ons kon toe lank gesels daaroor dat God dalk wil he ons moet na die besigheidsmense toe gaan en nie probeer om hulle in die kerk te kry op Sondag nie. Ineresant genoeg het dit baie byval gevind. Daar is ernstig gesels oor die nodigheid om uit te beweeg na die besigheidsmense en hulle te leer ken. Ons moet hulle behoeftes bepaal dat ons vir hulle kan help.
In 'n ander besoek kon ons toe juis dit doen.
Julle moet maar eendag saamkom, want ek kan nie die ervarings heeltemal reg aandoen deur dit so te vertel nie.
Vannaand kom daardie ouderling wat ons eerste besoek het na ons toe en vertel hoe sy vrou al vir hom begin kwalik neem, want hy word orals in die kerk rondgeplaas. Hy het net altyd vir haar belowe dat daar iewers in die toekoms 'n geheim is wat die Here vir hom wil gee. Gister toe hy ontdek dat hy geroep is om mense met slegte geeste te help, het hy en sy vrou geweet dat die Here nou die geheim aan hulle geopenbaar het. Dit is wat hulle moet doen en skielik is sy vrou ook saam met hom in die bediening. Hy het blykbaar die hele nag kort kort wakker geword en daaroor gele en dink. Dit is duidelik vir hom dat hy nou sy doel ontdek het.

Geestelike konferensie tydens Tumbine sinode se sitting

Dr Chatha Msangaambe is gevra deur die KGA om te help met 'n geestelike konferensie tydens die Tumbine sinode se sinodale vergadering.
Kom ons kyk gou wie sit op die harde bankies van die kerk en luister na die man. Dit is mense van verskillende gemeentes wat oor 'n gebied van 'n 1000km in deursnee lê. Daar sit dominees wat te voet meer as tien kerkies moet bedien en dikwels tot 80km ver moet loop om by hulle kerkies te kom. Hulle werk in gemeenskappe waar dit krities is vir oorlewing om deel van die gemeenskap te wees. Die gemeenskappe funksioneer egter op grond van tradisionele denke en gebruike wat nie in ooreenstemming is met die boodskap wat hulle moet verkondig nie. Die boodskap word dikwels in konflik van mense oorgedra en maak dat die bedienaars van die woord, ouderlinge en lidmate in kluis, dikwels geweldige uitdagings het en dikwels moet stry met verhoudings. In kort is dit 'n kerk wat swaar kry en nie is waar hulle wil wees nie. Toe die vergaderings begin is daar baie eerlik gepraat oor die seer. Hulle is nie die kerk wat hulle moet wees nie en hulle wil die Here vertrou om meer so te word.

Dr Chatha gebruik die boek van Jona as basis.
Ek noem so 'n paar goed wat ek kan onthou.
God stuur vir Jona na 'n plek wat hy nie ken nie waar hy geen belange persoonlik het nie. As die Here jou stuur, dan is dit dikwels nie waar jy wou wees nie.
Die Here gee hom nie die finansies daarvoor nie, hy moes op sy eie kostes gaan.
Hy erken sy fout op die see en ons praat oor die erkenning van ons foute.
In die vis leer ons van gebed en God se teenwoordigheid. Oorgawe en verandering van ons wil.
Hy verwys ook na Dawid en Goliat en hoe almal bang was en onseker en kyk net na dit wat die mens se oog kan sien. 'n Reus met groot wapens en baie krag. Dawid het egter 'n visie op God want die leeu en die beer was sy verwysing. Daar het God hom gehelp. Dawid tree op uit die realiteit van God.

Met afsluiting hier het die moderator Antonio Ualize voor almal op sy kniee gegaan en gevra dat ons oor die belangrike visie vir die kerk sal bid. Die gebede is opreg en hy sluit af met 'n roerende gebed oor God wat die Kerk op 'n nuwe manier wil gebruik. Hy bid vir 'n gees van gebed en 'n hart vir mense wat God nodig het. Toe hy opstaan vee hy die trane uit sy oë. Dit het almal stil gemaak. Daar is regtig 'n begeerte vir nuwe groei.