Handevat

Bou 'n Christus gebasseerde roeping vir Afrika

Wat is die Here se wil vir ons vir vandag hier in die Suidpunt
van Afrika? Hoe lyk Sy wil in verskillende omstandighede?

Sunday, July 1, 2012

Gereformeerde uitreik na Mocuba 2012



Die span het bestaan uit 5 lede van Annlin gemeente in Pretoria, 1 lid van Rustenburg en 2 lede van Strand. Die Strand was al 12 jaar betrokke by Mocuba en die ander gemeentes het verlede jaar bygekom vir die uitreik. Die gemeente waarmee saamgewerk word in Mosambiek is Magodane gemeente van die Geref Kerk in Mosambiek. Daar is 12 kerkies in Maganja da Costa area, 4 rondom Mocuba en een in Lugela. 
Die span het in tente gekamp en plaaslike geriewe gebruik, soms plaaslike kos eet en toe die gas opraak ook op vure kos  maak!

Ons ervaar iets van mekaar
In Lugela het ‘n jong vrou, die dogter van ouderling Joao Agusto, wat agv ‘n eleptiese aanval met swangerskap, haar voet lelik verbrand. Vrees en tradisionele denke het veroorsaak dat hulle vlug uit die hospitaal en het die voet baie lelik ontsteek. Die span kom daar aan en die vrou is in so ‘n toestand dat dit ruik en baie sleg lyk. Sy is in die ongelooflikste pyn toe al vir meer as ‘n week en haar hele liggaam is verswak. Drie dae na die brand is die kind ook gebore en word van een vrou tot ‘n ander aangegee, maar kry nie melk in nie. Die spanlede onderhandel toe met die familie en gemeenskapsleiers en op die ou end vat hulle die vrou na die hospitaal en koop vir die kind ook melk. Die kind wat dag en nag gehuil het is skielik stil en tevrede. Die ma se been moet afgesit word en die familie moet bloedskenkers koop. Die span help daarmee en op die ou end is die operasie gedoen. Die mooi van die lelike situasie is dat daar saam gehuil word en alle grense word daardeur oorbrug. Daar word reeds verwys na die feit dat die tradisionele vertrouelinge nie kon regkry om haar te help nie, maar gebede en mediese hulp kon haar help.
Die ander span sien weer ‘n meisie van 18 jaar, maar wat lyk soos ‘n 13 jarige agv ‘n groeisel in haar keel wat haar in die vreeslikste situasie plaas waar sy sukkel om asem te haal en die hospitaal kan blykbaar niks vir haar doen nie. Die magteloosheid om die meisie amper voor jou oe te sien kwyn van swaarkry het ook saam trane gebring.
Die span het gekom om te kom dien en te luister na mense in hulle lewenssituasie en dan hulle te dien met Jesus se gesindheid. Mens kan nie orals help nie en moet ook nie, maar daar is ‘n boodskap van hoop en bevryding en van ‘n GOEIE GOD wat omgee. Dit word realiseer deur mense ten spyte van hulle gebreke.

Iets meer van diensgestalte en rentmeesterskap
Die basiese evangelieboodskap van redding word weer verkondig, maar aangevul met ‘n diepere toepassing op rentmeesterskap. Kinders en grootmense word bewus gemaak van ons verantwoordelikheid oor die natuur en ouers help kinders om onder andere, papiere op te tel en skoon te maak. Daar word na die tyd deur die leiers getuig dat hulle amper gehuil het toe hulle besef hoe hulle die wereld nie oppas soos hulle moes nie. Rentmeesterskap in verhoudings met ander mense word ook bespreek en daar word gewys op die leuens waarmee die duiwel ons mislei. In RSA word die wit mense groot met die gedagte dat wit mense bo swartes is en swartes word weer groot dat hulle minder werd is as wit mense. Toe ons uitvind of dit ook daar die geval is, was die antwoord dat dit nie ‘n leuen is nie, dit is die waarheid!! Op die manier word daar op eerlike praktiese manier, in ‘n baie mooi gesindheid, oor die sake gesels en ontdek wat dit beteken om in die beeld van God geskape te wees. Om God se potensiaal, liefde, skeppingskrag ens in ons geskape te he. Die sonde het dit gebreek, maar dit word in Christus weer herstel. Ons almal is gelyk en kan nou die ander hoër ag as jouself. Op die manier word ander leuens ook bespreek en Bybelse waarhede ontdek.
Na die tyd was die getuienis dat hulle baie dankbaar is dat ons nie net soos baie ander spanne, net met die woordlose boekie gekom het nie, maar op ‘n baie meer sinvolle manier verder gegaan het en oor die nuwe lewe in Christus gesels het.

Invloed van verlede jaar se ongeluk
Na die ongeluk waarin 2 mense ernstig beseer is en twee oorlede is, het die plaaslike kerk nie gedink dat die gereformeerde span weer sal kom nie. Ds Jussa vertel iets daarvan vir ons in sy afskeidswoorde die jaar. Hy vertel hoe die kerk deur die gemeeskap beskuldig was dat hulle die span getoor het met medisyne sodat hulle in die ongeluk gekom het en dat hulle nooit weer sal terugkom nie. Verder het ook die kerkies waar ds Jussa voor die uitreik voorbereidingswerk gaan doen het, hom nie geglo dat die span weer gaan terugkeer nie. Hulle het maar halfhartig die pad oopgekap en toilette en wasplekke gebou, maar gedink dit is onmoontlik. Toe die span kom, was hulle uit die veld geslaan en sien dit nou as net God wat so iets kan doen. Dit het gehelp in die ongelooflike oop en eerlike houding en hoe ons oorlaai is. Ons is wel oorlaai met hoenders, rys, patats ens, maar dit was die klein bydrae. Die groot bydrae was die gesindheid van mense en hulle openheid om te hoor en te leer. Die span het baie mooi ervaringe om terug te vat na RSA.
Die ander deel is die terapie wat die besoek vir die span self gehad het. Toe hulle by die blyplek in Mocuba opdaag, toe le die bussie se wrak daar by die hek. Daar is dadelik baie trane gestort en saam gebid. Met die tyd het dit makliker gegaan en later kon die bestuurder self langs die wrak staan met ‘n glimlag oor God se goedheid. Oom Dup het ons veral later baie vermaak met sy grappies en opgewektheid en was weer sy ou self. Die besoek was vir ‘n paar van ons baie goeie terapie vir die verwerking van die ongeluk. Ons God is goed en ons leer elke meer iets meer van Sy goedheid.

Ander bedrywighede
Die Jesus film is gewys vir die eerste keer in die Chuabo taal. Daar is ook ‘n opvolg film gewys wat baie goeie reaksie uitgelok het, omdat dit iets van die toepassing van die film gewys het in die lewe van ‘n hoofman en sy mense. Daaroor is ook baie goeie terugvoering gegee.
Daar is saam gedink oor die vennootskap in die bou van die kerkgebou in Mocuba. Daar is met kinders gespeel, bybelstories vasgele en selfs prentjies oor die bybelverhale ingekleur. Sokker is gespeel en die evangelie is met kleure op ‘n sokkerbal verduidelik. Die twee wee plakaat is weer deurgepraat en gebruik in huisbesoeke.
Veral hierdie huisbesoeke was baie waardevol, want die mense het gesien dat ons wil dien en wil luister na mense.

Toekoms
Ons sien al meer moontlikhede om van die vennootskap tussen RSA en Mosambiek ‘n groeiende verhouding te maak wat sal voort gaan om na beide kante toe positiewe invloed te he. Die foute wat gemaak word, word bespreek en so groei die verhouding elke keer verder.

Baie dankie
Vir elke ondersteuner en voorbidder. Dankie vir gemeentes wat mense gestuur het. Dankie vir ‘n God wat toe op die ou end tog beter geweet het!

1 comment:

  1. Dit is SOOOOO lekker om die name weer te "hoor", of dan eintlik te lees. Magodane. Ek kyk na Namacura op Google Earth, sukkel om Magodane rots te kry. Ek sien Danie woeker nog steeds met die vuur. Die mense, veral kinders, staan steeds gefasineer deur die projektors en ander tegnologie.

    Van hulle kom nog steeds ter wille van die "awsomeness" van die tegnologie, en party sien dit as magies, miracles, wat ookal. So, nie baie het verander nie.

    Maar sekerlik het iets verander: Ten minste een, maar inderwaarheid baie, het Christus op 'n baie persoonlike vlak leer ken en erken (en inderdaad herken) as Koning, en Hom aanvaar as enigste, vreugdevolle en ware redder. Die Een by wie daar vrede is.

    Ons op aarde gaan daagliks deur ons lewe, en van buite af lyk dit nie asof baie verander nie. Maar in die hemele is daar chaos soos daar fees gevier word. Nog een is gered. Nog baie is nader na die oomblik van waarheid gelei.

    Groete aan almal wat deel het, en deel ontvang het.

    Jacobus Snyman.

    ReplyDelete