Handevat

Bou 'n Christus gebasseerde roeping vir Afrika

Wat is die Here se wil vir ons vir vandag hier in die Suidpunt
van Afrika? Hoe lyk Sy wil in verskillende omstandighede?

Monday, July 9, 2012

Gepreserveerde Christen (Stephan Joubert)


As sommige mense bid “Bewaar my, o God,” bedoel hulle eintlik “preserveer my.” Om kos te preserveer is om dit vars te hou tot die vervaldatum op die verpakking. Sommige wil hê die Here moet dieselfde met hulle doen. Hy moet hulle ongebruik en ongetoets deur die lewe laat gaan. Hulle moet ongeskonde by Hom aankom wanneer hul aardse rakleeftyd verstryk.
Die eerste Christene was nooit in die geestelike preserveringsbedryf nie. Vat vir Paulus. Toe ‘n profeet genaamd Agabus in Handelinge 21 aankondig dat hy in Jerusalem gevange geneem gaan word, het Paulus se helpers besluit hy moenie soontoe gaan nie. Paulus het dadelik geantwoord dat hulle hom nie met hul trane sag moet maak nie. Hy was nie net bereid om gevange geneem te word ter wille van die evangelie wat hy verkondig nie, maar om ook hiervoor te sterf. Paulus het verstaan en verkies (!) dat die Here hom kan “opgebruik”. Dit het nooit gegaan oor sy eie preservering of selfbehoud nie. Hy wou nie sy lewe deurbring as ‘n lewende dreigement wat heeltyd net dreig hy gaan nog eendag groot dinge vir die Here doen nie. Hy het dit sommer elke dag gedoen. Hy wou ook nie gedurig hoor hy het potensiaal in die Here se diens nie. Elke aand teen slaaptyd het hy sy daaglikse porsie potensiaal tot eer van die Here opgebruik.
Derduisende mense plaas Sondae in die kerk “alles” op die altaar vir die Here. Hulle teken in al wat ‘n aanbiddingslied is die beheer oor hul lewe aan God af, net om dit haastig terug te vat as hulle in die “normale” lewe aanland. Ten beste soek vele eintlik net ‘n God wat uitblink in die preservering van sy aardse bewonderaars.
George L. Fox het begryp wat dit beteken dat die Here hom kan opgebruik. Hy was ‘n kapelaan aan boord van die USAT Dorchester toe ‘n torpedo van ‘n Duitse U-boot dit op 3 Februarie 1943 getref het. Matrose het in die see gespring en met reddingsbootjies probeer wegkom. Toe kom vertel een van die soldate vir Fox hy het nie ‘n reddingsbaadjie nie. Net daar gee Fox toe syne vir die soldaat. Die drie ander kapelane het Fox se voorbeeld gevolg. Terwyl matrose van die skip weggeswem het, het Grady Clark, een van die oorlewendes, gehoor hoe die vier kapelane sing en hardop bid vir die veiligheid van die soldate in die see. Self het hulle geen kans gehad sonder hul reddingsbaadjies nie. Jesus se woorde dat daar geen groter liefde is as wanneer mense hul lewe aflê vir ander nie, kry in sulke tye nuwe betekenis.
Navolging van Christus gaan oor die selflose weggee van jouself aan Hom en ander, nie oor selfpreservering nie. Of oor die instandhouding van godsdienstige instellings waar ‘n skadelose, goed-voel-evangelie heers nie, en boonop teen ‘n winskoopprys wat mense se geestelike sakke pas. Jy noem so iets geestelike narkose!
Christus se helde is steeds mense soos die Samaritaan van Lukas 10 wat sy besige program onderbreek het om sy hande vuil te maak met die bloed van ‘n onbekende man langs die pad wat onder rowers deurgeloop het. En wat sy beursie oopmaak om vir hierdie man se sorg te betaal. Of Stefanus wat in Handelinge 7 bid dat die Here sy vyande asseblief tog sal vergewe terwyl hulle hom met klippe doodgooi. Die uitdaging is nie om ongeskonde die ander kant te haal nie.
Dit is om só te leef dat jy aan die einde van jou aardse reis die grootste woorde ooit hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg. Jy was getrou oor die bietjie wat Ek van jou verwag het. Kom sit aan by die fees van die Here. Ek het vir jou plek gehou!”