Die besoek aan Mosambiek was noodsaaklik en
ons het in die tyd duidelikheid gekry oor ‘n paar goed. Ek het saamgegaan om te
gaan groet. Die Saterdag aand het die dagbestuur van die sinode ons ingewag en
verwelkom. Van die begin af het hulle ons hartlik ontvang en ons kon saam met
hulle eet. Sondagoggend is ons gevra om die preek in die gemeente waar te neem.
Die lot het op my geval, die ander twee het meer ondervinding in oortuiging. In
die begin van die diens het ek die dagbestuur eenkant geroep en gevra of ek die
gemeente kon groet teen die einde van die diens. Een van hulle wou eers keer,
maar die ander drie het dadelik ingestem.
Tydens die diens het ek myself uitgeleef in
die boodskap. Op ‘n stadium het ek gevra hoe God se hart lyk teenoor ‘n dronk
persoon. Wat sal Hy doen? Die een persoon antwoord toe dat hy hom sal wegjaag.
Toe vra ek of daar dalk iemand is wat ‘n dronkaard was en toe na die Here gekom
het. Daar staan toe ‘n man op en verduidelik dat hy baie gedrink het. Ek vra
hom toe “wat het die Here gedoen en wat was op Sy hart toe jy voor hom gaan
staan het?” Hy antwoord toe dat hy vergewe is en dat God genadig is. So het ons
baie voorbeelde gehad om te verstaan hoe God se hart lyk en die boodskap is dan
dat omdat Hy so is, ons ook so word. Ons word gestuur om soos Hy te wees in die
wêreld. Ons word soos hy mense wat dien,
vergewe, regeer oor alles en reg te help en die omgewing te herskep. Ons bring
God weer nader aan mense soos Jesus dit gedoen het. Ek het dit as ‘n besonderse
geleentheid beleef.
Teen die einde van die diens het die moderator
opgestaan en dankie gesê vir die werk wat ek
deur die jare gedoen het en toe vir my kans gegee om te groet. Dit was
emosioneel om die ouderlinge en volwassenes in die kerk te groet. Toe ek daar
gekom het was van hulle, die seuntjies wat vreeslik opgewonde was om agter op
die bakkie te spring en te gaan help om sand uit die rivier te gaan haal vir
die bou van die huis en die kerk. Ek het ‘n paar staaltjies gedeel en dankie
gesê vir wat hulle vir ons beteken het, hoe
hulle ons opgepas en geleer het hoe dinge in Mosambiek werk ens. Sonder om
redes te gee, het ek dan net gesê dat ons tyd om
daar te werk, nou verby is.
Die vergaderings waar Herman en Kobus, baie ure met die leiers
gespandeer het, het daardie middag begin. Die gesprekke het in ‘n baie goeie
gees plaasgevind. Hulle besluite is gerespekteer, maar baie vrae is gevra oor
die manier waarop dit gedoen is en ook verduidelik hoeveel implikasies besluite
soos hierdie het. Die beëindiging van
Handevat se werk was maar een van ‘n
paar drastiese besluite wat geneem is. In Chiconono is ‘n evangelis gevra om sy
werk te stop en die drie personeel lede van die geletterdheids kantoor is ook
gevra om hulle werk te beëindig. In beide gevalle
was dit ook baie nodige handelinge wat bewys dat daar ‘n poging is om
verantwoordelheid te neem. Hulle het nie hulle werk gedoen nie en het die
motorfietse misbruik ens. Die een persoon wat na hulle terug gekom het en om
verskoning gevra het, is op die ou end weer aangestel.
Kobus en Herman het aan my verduidelik dat die
leiers om verskoning vra en erken dat hulle nie die sake goed hanteer het nie.
Hulle het ook bevestig dat daar niks negatiefs gebeur het wat hulle verhouding
met my vertroebel het nie. Van hulle kant af is daar niks wat hulle teen my
persoonlik of die werk wat ek gedoen het nie. Hulle het ‘n groot waardering vir
die werk en wil graag dat dit moet voort gaan.
Daar is ook ‘n brief opgestel om vir die
ondersteuners in RSA te verduidelik wat aangaan. Die brief was baie mooi
bewoord, maar het nie baie gesê oor die redes
van optredes nie en ook nie die spesifieke gebeure en besluite verduidelik nie.
Kobus en Herman het toe saam met hulle die brief aangepas wat toe aanvaar is. Lees
die brief by: http://handevat.blogspot.com/2013/01/letter-from-tumbine-synod-to-all.html
Ek was net een keer in die vergadering om die omvang van die tweeling
verhoudings tussen gemeentes in Mosambiek en gemeentes in RSA te
verduidelik. Die res van die tyd het ek
mense besoek en gegroet. Ek het ook vir Bileam (die motorfietsie) verkoop.
Woensdag oggend is ek na die sinodale gebou om
die leiers te gaan groet. Ongelukkig was die ander al weg en het ek net vir
Ualize gekry. Ek sê toe dat ek ‘n boodskap
het vir hulle en wil graag hê dat hy dit aan
die ander moet oordra. Hy gee my toe ‘n stoel en ek sien ‘n diep bekommernis op
sy gesig. Ek verduidelik toe dat die besluit wat hulle geneem het, ‘n goeie
besluit is. Ek was van ongeveer die jaar 2001 die oudste predikant in die
sinode. Ek ken al die gemeentes en ken die geskiedenis van al die streke. Soms
gesels ek met dominees en dan praat ek van gemeentes wat hulle glad nie ken
nie. Omdat die kultuur nog sukkel met selfbeeld het dit natuurlik veroorsaak
dat hulle dikwels in my skaduwee gewerk het en ek het dit nie genoeg raakgesien
nie.
Ek het verder kontak met al die ondersteuners en weet wat orals aangaan.
Inligting is mag en alhoewel mens juis verantwoordelikheid en eienaarskap probeer
oorgee het, het ek in die pad begin staan van die self realisering van die
kerk. Ek verduidelik toe vir hom dat ek dit eerste moes gesien het en daarom vra
ek om verskoning. Ek kon op sy gesig ‘n geweldige verligting sien en ons kon
ons verhouding weer bevestig. Ons verhouding met mekaar is nie verbreek nie en
hy nooi my uit om nie heeltemal uit hulle lewens te verdwyn nie. Ek moet weer
besoek.
Hier moes ons meer tyd gehad het om verder te
gesels, maar ongelukkig was dit net voor ons vertrek het. Nou eers was die
spanning en ongemak gebreek dat mens meer openlik kon gesels. Die situasie was
dus vir hulle baie spanningsvol en daarom glo ek is baie besluite onbehope
geneem. Ek glo dit is ook die rede hoekom hulle nie ‘n rede kon gee vir die beëindiging van Handevat se werk nie. Ook hoekom hulle nie my nie kom
groet het voor hulle geloop het nie. Dit was vir my sleg dat hulle Dinsdagaand
vir my sê, dat ons more oggend groet en toe glad nie
opdaag om te groet nie.
Wat my rustigheid gee is dat die werk wat tot
dusver gedoen is, baie waardevol was en nog vir lank ‘n invloed behoort te hê op die toekoms. Verder ook om te weet dat die besluit reg is ten spyte
van die foute wat gemaak is in die manier waarop dit oorgedra is. Ons hele
gesin het ‘n rustigheid oor die gebeurtenisse en die lesse wat ons hierdeur
leer, is vir ons baie werd. Ons weet ook dat die toekoms aan die Here behoort.
Soms is mens bekommerd oor die spesifieke planne vir die toekoms, so as julle
iets van die Here hoor, laat weet gerus!
Met die gebeure is dit dalk tog moontlik dat daar weer 'n rol op 'n ander vlak, in Mosambiek kan ontwikkel! Alhoewel dit nie so is nie, sien die kerk my as 'n pa. Indien die pa se kinders kinders het, mag die oupa nie meer inmeng in die manier waarop kinders groot gemaak word nie, maar die oupa het nog 'n rol. Met die spanning wat gebreek is, is dit dalk moontlik. Dit is net nou baie belangrik dat, in so 'n geval, dit 'n inisiatief van Mosambiek moet wees.
No comments:
Post a Comment