Handevat

Bou 'n Christus gebasseerde roeping vir Afrika

Wat is die Here se wil vir ons vir vandag hier in die Suidpunt
van Afrika? Hoe lyk Sy wil in verskillende omstandighede?

Thursday, September 9, 2010

IRM visie gesprek

Ek word gevra om deel te wees van die visie kommittee van die Tumbine sinode. Ons het 4 ure gehad om te praat oor: Wat is 'n visie? en Wat is die Tumbine sinode se visie?

Eers luister ek net na die ouderlinge en jong dominees gesels oor die visie. Hulle kom toe tot die gevolgtrekking dat ons visie van die kerk 'n geestelike lewe moet wees. Om dit te bereik wil hulle dominees vra om ouderlinge op te lei, verder moet daar baie gebid word en gebedsgeleenthede gereel word.
Ek vra toe die vraag: As mens iemand kry wat hierdie geestelike lewe het, hoe weet mens dat hy dit het? Watter bewys het mens dat iemand die geestelike lewe het wat ons as visie daar stel. (Die doel is om hulle te help om te weet wat 'n geestelike lewe is, want mens kan agterkom dat dit nog nie verstaan word nie). Hulle is toe onkant gevang deur die vraag en weet nie regtig nie. Ek vra toe die volgende vraag: As iemand gereeld kerk toe gaan, is dit 'n bewys van 'n geestelike lewe?  Vinnig word ja gese, maar gou daarna word gese, nee. Dit is dalk 'n goeie teken, maar dit is nie 'n bewys nie. Toe vra ek: As iemand opgelei word as 'n dominee en later preek en nagmaal bedien, Is dit 'n bewys van geestelike lewe? Hulle se toe weer vinnig: "sekerlik tog", maar weer kom die tweede keer die antwoord: "Nee dit is ook nie te se nie!" Nou wat is hierdie gogga wat ons noem "geestelike lewe"?
Die vrae het die gesprek baie besig gehou. Op die ou end het die vraag sy kring geloop en terug gekom na my toe. Ek begin toe, met deelname ook van hulle, my visie te verduidelik: 'n Baie goeie teken van 'n geestelike lewe is 'n persoon se hart. Hoe sien mens 'n hart? Die hart het gevolge, waarvan vir my die grootste die dienskarakter van God se hart is. Liefde wat bewys word in dade van diens. Dit is iemand wat regtig ander WIL help en bereid is om homself onder en langs die eenvoudigste mense te stel, hulle hande te vat sonder om te veroordeel 'n pad saam loop ten spyte van homself, want so 'n persoon WIL graag help. Dit straal uit sy hele gesindheid. Nederigheid liefde en diens is dus van die goed wat wys dat 'n persoon 'n geestelike lewe het.
Hierop bou ons toe verder 'n visie waar die dagbestuur van die sinode die visie draers van die kerk sal wees. Dus mense sal wees met hierdie diepe begeerte en strewe om die kerk te bedien tot by elke lidmaat op die grond. Hulle, in hulle besoeke aan die ringe dra dan die gesindheid oor. Hoe word so 'n gesindheid oorgedra? Kan dit op die ou styl gedoen word waar mense gese word wat om te doen? Die antwoord is nee, want die manier waarop jy werk is belangriker as wat jy doen. Die manier dra die hart oor nie wat jy doen nie, wat jy doen is in elk geval vol foute.
Wat dan van die departamente van die sinode soos die mediese werk. Vinnig sien mens dat dit bedoel is om die mense te dien, maar daar word erken dat baie werkers dikwels werk ter wille van betaling status en krag wat hulle daaruit kry. Die sinode moet dus sulke mense nie veroordeel nie, maar help om dit te doen om werklik die gemeenskap te dien en nie om eie gewin nie. Mense wat aangestel moet word, moet volgens die visie gekies word ens.
Die groep het baie opgewonde geraak hieroor en het vreeslik lekker saam gepraat en vrae gevra. Daar is 'n opgewondenheid as iets van God se hart verstaan word. Die probeem is net dat dit so ver van die huidige situasie is, dat hulle bang word om dit oor te dra. In die groepsmense se gedagtewereld is dit baie moeilik om sulke drastiese standpunte in te neem. Hulle se toe dat hulle dit gaan se, maar dat ek die vrae moet antwoord as daar vrae is. Op die ou end het hulle dit glad nie in hulle verslag genoem nie. Ek verstaan dit heeltemal en besef dat dit nog tyd gaan vat.  Ek is egter gevang deur die visie, want dit omvat ALLES wat die kerk doen in al hulle departamente. Evangelisasie, landbou, medies, rentmeesterskap ens.
Ek sien die potensiaal om met die dagbestuur van die sinode oor die goed 'n pad te stap, so ook groepe soos die jeugleiers wat 'n jeugbediening wil begin saam met 'n jeug dominee. My hart klop sommer vinniger oor die geleenthede wat oopmaak en ek vra voorbidding van die paar van julle wat dalk die stukkie lees.