Dit is lekker warm
en Wynand is daar in die rivier in die water tydens ons middagete.
Ons het gehoor dat ds Velasco Acasio nie meer bly waar hy gebly het
nie. In die omgewing waar ons gehoor het hy is, kry ons hom glad nie.
Ons ry toe na die kerkie wat die naaste is aan Mulela self. Die roete
vat ons op twee spoor paadjies wat later verdwyn en ons ry deur die
bos tot daar. Die mense skrik hulle boeglam en hardloop weg. Na baie
gelag oor die skrikmaak, hoor ons toe dat die kerkie nie meer bestaan
nie, maar dat die ds in die dorpie self is. So is ons terug na die
dorpie en na navraag kom ons by sy huis uit. Hy is nie daar nie en
ons moes 2 ure vir hom wag. Dit gebruik ons deurdat die Moslem
buurman ons rivier toe begelei en ons daar gaan swem om af te koel,
alhoewel die water so warm is, mens koel net af as jy uitklim.
Ds Acasio daag op en
daar is groot vreugde, hulle het net die oggend gewonder wanneer ek
hulle weer gaan besoek. Gelukkig het ons 'n hoender in Ile present
gekry. Ons kon nie ooreenstem of dit dit 'n haan of hen is nie, maar
ons het dit agter in die bak gelaai in 'n sak en noem dit Leslie. By
die rivier verdrink Leslie twee keer amper. Ons wou nie die arme
hoender in die warm kar los nie, want dan sou dit in elk geval nie
kon oorleef, so Leslie is saam rivier toe. In die skaduwee langs die
rivier spring Leslie op 'n stadium op met sak en al en beland in die
water. Gelukkig kon Wynand sy/haar lewe red. Terwyl ons vuur maak en
weg kyk beland Leslie weer in die water en ek weet nie vir hoe lank
nie, maar toe ek hom/haar uithaal en bietjie skud toe kom daar
gelukkig nog geluide uit die sak. Normaalweg moet sy kop deur 'n gat
in die sak buite uitsteek, maar in die proses het die sak gedraai.
LESLIE |
Leslie was 'n groot
uitkoms van die familie van Acasio, want hulle het geen bykos in die
huis om vir ons te gee nie en daar word Leslie se lewe ook beeindig
en eet ons vir Leslie op die aand. Vir die volgende dag het ons 'n
blikkie ham en bietjie olie gegee vir bykos sodat hulle dit in skywe
kan sny en bietjie braai oor die vuur om saam met die pap te eet.
Ons verwonder ons
aan die deursettingsvermoee van daardie familie, want hulle moes 'n
paar groot teleurstellings deurleef. Hulle het katoen gekweek, maar
die man wat dit koordineer het vergeet om vir hulle te se toe dit
opgekoop is. Hy moes dit weggooi. Die Moslem geloof maak dit nog
moeiliker om aanvaarding in die gemeenskap te kry. Met dit alles, bly
hulle blymoedig en kon ons baie deel oor swaarkry en God wat in Jesus
swaarkry ken en dit met ons deel en ons daardeur sal dra. Ons deel
met mekaar tye van twyfel en deurbrake.
Ons ry uit na een
van die senters en daar kon ons vir 'n drie ure lekker met die paar
mense wat daar was gesels oor geloof en hoe om vir Moslems lief te
wees en hulle te dien. Dan ook Dawid en Goliat se storie en Wynand
wat lekker groot gebou is, word toe Goliat. Ons praat oor soldate wat
net die reus sien en 'n seun Dawid wat meer sien en deur God gebruik
word om die vyand op die vlug te laat slaan. Sy visie deur geloof.
Sondag is ons na die
ander senter en moes ek die boodskap bring. Ek wou kort preek, maar
dit is meevoerend as die Gees van God met mense begin werk.
Ons vertek eers na
'n ete en moet toe deurdruk tot by Dere waar ons in die donker
aankom. Ds Dionisio Cinco Reis (Vyf konings) is baie rustiger as die
ander dominees. Ons kry 'n ete en dit gaan bietjie beter in die huis
omdat hy 'n vennoot in RSA het wat hom help met R500 per maand. Die
volgende dag word ek gevra om toerusting te gee en dit doen ons die
hele dag. Weer neem die Gees oor en kort kort is ons vreugde groot om
te sien hoe Hy werk. Die dominee het bv sekere stellings gemaak oor
tradisies en die mense het geworstel om dit te aanvaar. Ek het
“toevallig” dieselfde stellings gemaak vanuit 'n ander hoek.
Later het die sterkste ouderling opgestaan en dankie gese, want ek
het dieselfde goed as hulle dominee gesê
en nou weet hy dit is waar. Ek lê
ook baie klem op die roeping van die gemeente om die gemeenskap lief
te hê en te help anders
is ons nie kerk nie. Wat vir my lekker was om te sien is dat die
mense die agenda van die gesprek op die tafel sit. Ek vra hulle uit
oor die gemeente en die omgewing en hulle lewens. Daaruit kom die
onderwerpe op die agenda en so betrek die Here hulle in Sy proses.
Dit is in elk geval hoe ek dit beleef het. Ds Dionisio het na die tyd
sy hart oopgemaak en vertel van hoe die Here hom op talle maniere
deur drome gehelp het en verdere persoonlike stories vertel. Die man
het 'n baie goeie kennis van die Bybel en regtig 'n goeie teologiese
verstaan daarvan. Dit kan wees dat die gemeente nou weer nuwe rigting
gekry het.
Dit
bly regtig 'n ongelooflike voorreg om die werk te kan doen en Wynand
beleef dit ook as 'n baie verrykende ervaring! Hy sê ook: The first
of many to come!
No comments:
Post a Comment