Handevat

Bou 'n Christus gebasseerde roeping vir Afrika

Wat is die Here se wil vir ons vir vandag hier in die Suidpunt
van Afrika? Hoe lyk Sy wil in verskillende omstandighede?

Friday, August 8, 2014

Wêreld van Mosambiekse dominee

(Ter wille van vertroulikheid, is die persone in die foto's nie dieselfde as die persone waaroor ek skryf nie. Ek kombineer ook soms ervaringe.)

Verhoudings is geweldig belangrik om in Mosambiek te kan oorleef. Om sleg gesê te word of beledig te word, is om dood gemaak te word. Jou lewe hang af van jou verhoudings. Aan die ander kant bring God se koninkryk jou in konflik met jou gemeenskap.
"Ek is gestuur na die gemeenskap en ek weet God het my hierheen geroep" sê 'n dominee vir wie ek bewonder. "Die mense hier behoort al lank aan die kerk, maar weens afstand, was hier nog nooit 'n permanente dominee nie. Die dominees wat hier gekom het, was op kort besoeke en het nie werklike verhoudinge gebou met die gemeenskap nie. Nou begin ek verhoudinge bou en ontdek dat daar baie gebruike is wat uit 'n tradisionele geloofs tradisies voorkom. Mense hou bv groot seremonies drie dae na 'n begrafnis waar offers vir voorvaders gegee word. Ek kan nie net inspring en vir hulle vertel hulle is verkeerd nie, want die gebruike gaan saam met diep oortuiginge en emosies. Volgens die tradisies, mag die gebruike nie verander word nie. Indien jy dit verander dan versteur jy die verhoudinge met die geesteswêreld en veroorsaak dit konflik en dood. Mense is dus vreeslik bang om aan die gebruike te verander. Die een wat wel teen die gebruike optree, is dan ook die oorsaak van dood, pyn en alles wat negatief is. Hy staan dan teen die gemeenskap en is sleg. Om in die gemeenskap te kan werk, moet ek mense se vertroue wen en deel word van die gemeenskap. Aan die ander kant is mense mislei en moet gehelp en bevry word deur Christus. Om te vinnig die gebruike te probeer verander, gaan ek die mense en die verhoudinge verloor, wat sal maak dat ek nie hier sal kan werk nie. Die strategie wat die Here vir my gee is om verhoudinge as breekbaar te hanteer en die Bybelse lering te gee. Oor tyd glo ek die Heilige Gees sal verstande verlig om te sien wat is waar en dan kan mense begin om van hulle kant af besluite te neem."

 
Hy vertel verder: "Voor ek hier aangekom het, was 'n ouderling in beheer van die gemeenskap. Hy is familie van hulle en het 'n vertrouensverhouding van sy geboorte af en vanuit 'n geestelike tradisie met mense. Hy het wonderlike inisiatiewe geneem, maar het ook sekere tradisionele gebruike bly aanhang. Hy en sy familie het sterk leiers geword. As ek nou as leier by hom gaan oorvat, gaan hy seerkry en kan hy negatief optree. Dit is baie maklik vir hom om my uit te werk, want hy het die gemeenskap aan sy kant. Ek moet dus met baie wysheid optree sodat hy met tyd sy posisie in die gemeente kan vind nadat ek op die toneel verskyn het. Ek is die een wat sakramente kan bedien en hy kan nie. My koms gaan sy posisie ernstig raak veral as mense begin ontdek dat die tradisionele gebruike wat hy aanhang vervang moet word met 'n lewe uit die geloof in die ware God. Die Here help my met stategie"
'n Dominee vertel ook: "Die verhoudinge met ouderlinge is belangrik. Die werk van die Here geskied deur my verhouding met hulle. Die verhouding maak of breek die werk. Ek moet 'n area met amper tien kerkies bedien en die afstand wat ek met voet moet aflê is soms naby 'n 100km. Om dit te doen moet mens twee nagte langs die pad oorslaap. Soms by mense wat ek ken, maar andersins iewers langs die pad. Soms is daar vervoer moontlikhede, maar dikwels is dit maar te voet. Daar is twee uitdagings in die gemeente. Mense het uit die geskiedenis nog nooit geleer om met die buur kerkies van dieselfde gemeente saam te werk nie. Mense besoek net eenvoudig nie ander kerkies nie. Ek kan dus nie mense saam roep na een plek en verwag om 'n gesamentlike byeenkoms te hou nie. Verder kom mense nie vir opleiding nie. Verlede maand het ek 86km ver geloop vir opleiding, dit het my drie dae se stap geneem. Ek sukkel self met ongesteldhede en sukkel om die krag te hê vir die afstande, maar die Here kry my daar. Daar aangekom, is daar niemand nie. Ek wag maar drie dae, maak 'n ander afspraak en stap dan terug. Die ouderlinge belowe om my taxi geld te betaal as ek geld leen. Ek leen dus geld en ry met die taxi weer soontoe. Daar aangekom is daar weer niemand. Ek moes toe maar weer terug stap. Ek was baie moedeloos, maar besoekers uit RSA het my in so mate aangemoedig dat ek weer moed geskep het en weer strategieë kon beplan oor wat my volgende optredes sal wees. Ek gaan nou weer by al die kerkies om stap en die sake met hulle deurpraat."
In nog 'n gesprek vertel die dominee: "Ons as dominees moet gemeenskappe help om vir mekaar om te gee en mekaar te help. Baie word siek en verhoudings kry seer en dit is geleenthede vir ons om vir mense by Jesus as die eienaar van verhoudings te gaan aanklop en te help. Waar ek kan, ry ek mense met my motorfietsie aan hospitaal toe, bid vir mense en huil saam met mense wat met die dood en siektes gekonfronteer word. Hier gaan dit veral daaroor dat sommige uitgewerp word uit die samelewing. Ek moet dikwels die een wat uigewerp word gaan help, maar daar loop jy die risiko om saam uitgegooi te word. Dit is nie lekker nie. Ons is dikwels nog steeds kleingelowig en bang vir uitwerping. Ons word ook siek en het die gemeenskap nodig om ons te help anders gaan ons dood. Ons is afhanklik van ons gemeenskap en ons is dikwels buite bereik van ons eie familie af. Die lidmate moet ons help met kos, klere en huis, maar omdat ons verhoudinge het met mense in RSA dink mense ons is skat ryk en het geen behoeftes en materiële hulp nodig nie. Vriende help mos mekaar en ons het mos ryk vriende. Dit is baie moeilik om mense se respek te behou, maar ook vir hulle te laat verstaan dat ons soms geen hulp kry nie. Dit gaan nog lank vat. Soms sit ons met die mielies uit ons eie landery, maar het ons nie geld om dit te maal nie."
Die vrouens van dominees kry baie swaar. Die lewe is moeilik met water wat aangedra moet word, klere en skottelgoed wat met hand gewas word, baie swak mediese hulp, nie gebalanseerd kan eet nie, ver te wees van familie, in 'n ander kultuur en taal te leef, ens. Sielkundiges het bewys dat om in 'n ander taal en kultuur te funksioneer drie keer groter spanning veroorsaak as 'n maksimum hanteerbare spanning. Ek weet van 'n vrou van 'n dominee wat hulle nou al drie keer in die kasava landery gekry is met 'n mes omdat sy selfmoord wil pleeg.

Ten spyte van soveel uitdagings word ek elke keer aangemoedig deur deursettingsvermoeë wat die Here vir mense bonatuurlik gee.

Monday, June 30, 2014

Uitdagings van die Mosambiekse dominee in die platteland

In 'n gesprek met 'n dominee op die platteland kom die volgende na vore(Ek vul ook verder aan uit ander gesprekke):

Daar is plekke waar mense kerk hou sonder dat daar baie Bybelse opleiding bestaan. Die kerk bestaan dus en daar is baie entoesiastiese lidmate, maar hulle hang ook talle tradisies aan. Veral by plekke soos begrafnisse is daar rituele wat na drie dae gebeur en van die gerekende sterk christene in die gemeente neem daaraan deel en leer ook die ander lidmate om dit te doen. Dit gebeur ook telkens dat die kerk gekonfronteer word met mense wat vreesagtig raak wanneer daar siektes en ander uitdagings is. Dikwels word daar dus terug gegryp na traditionele medisyne. Hierdie tradisies kom oor baie geslagte en word nie sommer net verander nie. Dit maak dat jy as dominee inkom in 'n situasie waar jy nie inpas nie. Aan die een kant die mense hulle gebruike en dan aan die ander kant die koninkryk wat anders lyk.
Die tweede uitdaging is dat baie kerkies reeds bestaande leierskap het wat vir jare aangepas is om aanvaarbaar te wees vir die mense. Dikwels is dit hierdie leierskap wat sekere nie-bybelse gebruike voorstaan en leer. Nou kom die nuwe jong dominee in en is onmiddelik in 'n baie sensitiewe situasie. Hy wil nie die mense verloor nie, maar hy kan ook nie die gebruike goedkeur nie. Baie keer as die dominee min ondervinding het word die proses verkeerd begin en as die aanvaarding verloor is, dan kry die dominee regtig swaar. Hy is veronderstel om deur die mense onderhou te word en nou werk die verhouding nie. Sulke verhoudings word baie moeilik weer herstel. Ander dominees begin nou eers meer wysheid opbou en benader die proses met baie meer ervaring. Die proses van verandering gebeur dikwels nog stadig, maar die mense word nie verloor nie. (onsensitiewe besoekers kan dikwels die proses skade berokken). Die dominee word nou bo die ouderling aangestel wat daar was en kry soms hulp van buite wat die ouderling nie gekry het nie. Dit is goed wat hulle verhouding baie keer in die wiele ry. Dikwels kom mense vir opleiding, want hulle het die verwagting dat as hy bv as 'n sondagskool onderwyser 'n sertifikaat het, dan gaan hy betaal word vir die werk wat hy gaan doen. Hy is baie entoesiasties en doen vreeslik goed, maar as die betaling op die ou end nie kom nie, dan verdwyn die onderwyser ook.
Ek kom by 'n dominee in sy gemeente en nie lank nie en ontstelde gemeentelede vertel my van die dominee se vrou wat vreeslik kwaad is vir hom. In die spesifieke geval het die vrou al twee keer probeer om selfmoord te pleeg en kan mens agterkom sy is in 'n ernstige depressie waar sy nie sonder hulp sal kan uitkom nie. Ek is nie veronderstel om iets daarvan te weet nie en kan dus niks doen nie. Hoop om vorentoe die gaping te kan skep om te kan help. Kan jy jouself nou indink dat as jy in die druk situasie is en jou gesinslewe is ook onder druk. Jou vrou wil wegloop na haar ma toe en die kinders kry swaar. Meer as die helfde van die dominees sukkel met huweliksprobleme.
Dit maak dit vir my baie duidelik dat die jeugwerk in Mosambiek hierdie twee aspekte ook in ag moet neem. Een is traditionele gebruike, die verstaan daarvan en 'n Bybelse alternatief wat geloofwaardig en aanvaarbaar is. Tweedens verhoudingings waarvan die huwelik die basis menslike verhouding word.

Die derde aspek het ek nie nou oor gepraat nie, maar dit is dat daar 'n atmosfeer van dissipelskap sal wees wat verstaan en geleef word.  

Strand mosambiek besoek vir jeugwerk

Die span(Danie, Elbie, Bernadette en Dirkie) word uitgestuur vanuit die Gereformeerde Kerk Strand. Ons word gestuur om Magodane, Mocuba en Lugela IRM kerk by te staan in opleiding van jeuleiers.

Ons land in Blantyre en moet alles in Kobus Eksteen se bakkie inpas. Hy en Nana het ons kom haal.

Ek en Kobus moes agter inpas saam met die bagasie

15 Junie
Ons geniet middagete langs die pad op pad na Mocuba

Wat 'n voorreg om die hereniging van die familie saam te kon beleef na 'n jaar se skeiding. Hoe nader ons aan Mocuba gekom het, hoe haastiger het Bernadette geraak. Dit was diep belewenisse. Interessant, Ek het haar kom haal en ek het haar terug gebring. Feliz het spesiaal vir my kom dankie se!

14 Junie '14
Ons moes baie aankope doen en die gewone winkeltjies was toe oor die naweek. Ons moes alles op die mark doen. Hier word uie geweeg.

15 Junie '14
Ons ry na Magodane en laai daar die dominee en ander op. Maak bagasie op die dak vas en ry deur na die dorp Maganja da Costa. Hier is 'n proses van kerkplanting besig en gee ons 'n baie goeie belewenis van die plaaslike belewenis van geloof. Met baie uitdagings, is die saam wees die belangrikste. Saam eet, speel, werk, ens.

16 Junie '14
Alles van die geloof is hier nog baie nuut. Die fasiliteerders wys baie persoonlike groei in hulle aanbieding om vir mense te laat verstaan hoe belangrik kinders vir die Here is en ons verantwoordelikheid om hulle op die pad te begelei.
Vir die nuwe geloofsgemeenskap was die besoek geweldig belangrik. Al sou ons niks gedoen het nie, was ons besoek die moeite werd.

17 Junie '14
Die oggend word gebruik vir verdere opleiding in die beginstadium van hoe om Sondagskool aan te bied. Voete word gewas en ons doen ook huisbesoek. Die ou weduwee wat ons besoek bring sommer trane na die oe.
Felizardo sal later terug kom en die werk verder begelei.

Benjamin en nog 'n ouderling het nog nooit die see gesien nie en ons ry in see toe om vir hulle te wys. Die pad is maar stadig en hier moes ons deur diep waters om daar uit te kom.

Die see word werklik bewonder en die opgewondenheid loop hoog. Daar word ook vis gekoop vir 'n vale.

Die span koop 'n groot vis en die baas prons wat die volgende dag geeet is.

18 Junie '14
Hier word fasiliteerders wat verlede jaar opgelei is asook 'n hele paar nuwe fasiliteerders opgelei. Die waarde daarvan is onmeetbaar kosbaar.

18 Jun '14
Deel van die opleiding is om te kan dien en ook kinders te dien. Voete was deur die fasiliteerders is die praktiese ullistrasie. Alle lesse word al meer met sulke praktiese toepassings geillustreer.

19 Jun '14
Ons besoek die twee buite gebedshuise van Mocuba sending gebied. Hulle staan so bekend omdat Mocuba nog nie 'n gemeente is nie. Hulle funksioneer nou weens die afstand apart van Magodane gemeente. Hier is Erua se kerkie wat in Sept '13 gebou is. Verlede jaar het ons in die oopte daar besoek afgele.

Hier word die nuwe plakaat tydens die besoek aan die mense verduidelik in die nuwe kerkie. Kyk net die netjiese dak.

Die middag besoek ons Muraba en doen ons praktiese sondagskool werk en ander gesprekke word gevoer voor die Jesus film.

21 Junie '14
Die Saterdag was hier in Mocuba die seminaar aangebied, maar met 'n nuwe styl van deelname. Daar is 'n paar oulike jeuglede wat baie lekker saam dink en praat en ek help die fasiliteerders om dit vrugtevol te gebruik. Dit veroorsaak dat ons 'n paar persoonlike baie eerlike getuienisse hoor en saam dink oor 'n dorp wat vir Christus gewen moet word. Daar groei 'n verstaan om as fasiliteerder die tussen persone te wees tussen God en die jeug van die dorp.

Sondag 22 Jun '14
Ons hou erediens en daar word veral ingeoefen om na die Here te luister en met mekaar te deel oor wat ons hoor. Sy roeping word so al hoe duideliker vir die groepie gelowiges in die baie strategiese dorp met al sy uitdagings. Na die diens gesels ek en ds Teixeira ook lank oor die bouprojek en wat alles daar gebeur het en moet gebeur.

23 Jun '14
Ons arriveer die vorige dag in Lugela en word oorweldig deur die ontvangs en liefde van die mense. Hier is ons druk besig met die seminaar.

Kyk net die kos wat ons voorgesit is. Al wat ni ein die foto is nie, was die gebraaide kasava chips wat ek verslind het.

Die seminaar word hier oor twee dae op Lugela aangebied en die Jesus film word in 'n nabygelee gebeds huis gewys.
Hulle het vir ons gras huisies gebou waarbinne ons ons tente kon opslaan!

Ds Ualize leer ons ken as 'n baie wyse man en hier verduidelik hy 'n paar aspekte aan die fasiliteerders.

25 Jun '14
Ons ry 'n bospaadjie na Lipembe gebeds huis vir die dag.

In Lipembe word baie met kinders gespeel en die prakties en verdere gesprekke is baie waardevol. Daar word veral baie aandagtig na die Jesus film geluister nadat ek gehelp het om die klank baie duidelik te maak.

26 Jun '14
Die dag spandeer ons in Tacuane se lieflike omgewing en mense.

In Tacuane het die prakties baie goed verloop en was daar veral 'n groot vreugde. Dit ten spyte van 'n oortreding wat ons begaan het by die begrafplaas wat mense ontstel het. Die besoek was 'n hoogtepunt. Ons kom agter die geweldige diepte van tradisies en traditionele gebruike waarvolgens mense lewe. 
Ons bid vir siekes en help 'n vrou wat tydens die Jesus film onbeheersd aan die huil gegaan het. Ons voel aan dat iets in die geestelike realm gebeur het.

27 Jun '14
Tydens afskeid word gehoor van dood in die evangelis se familie. Ten spyte daarvan word ons met geskenke oorlaai soos die foto wys. Lappe, kos ens. 
Ds. Ualize vertel van ons van die gemeenskap se uitdagings en ek deel dit later op my blog.

28 Jun '14
Op pad terug dink ons oor die paar dae se paadjie wat ons vir 'n oomblik hand aan hand met ons broers en susters in Mosambiek geloop het. Mag ons weer kom en mag ons elke keer Sy stem hierin duideliker hoor. 
Hy het die uitreik weer mildelik in Sy koninkryk gebruik. Ons sien maar net tekens van die onsigbare werk in harte, maar die tekens oortuig ons dat die uitreik vir baie 'n Goddelike ontmoeting was. Sy naam ter eer.
























Monday, June 2, 2014

Besonderse mense is vir my tot 'n seën

SONDAG SE PLAASBEDIENING

Sondag is ons weer na die skooltjie tussen die plase langs die Bottelary pad. My pa en ma is ook daar en bring vir Anna en Jeanette saam. Hulle getuig van verlossing uit verslawing van drank, dagga en rowwe lewens.

Hier staan my ma en pa Anna met die wit kopdoek en Jeanette met die swart kopdoek. Hulle lyk baie ernstig hier, ons het seker oor 'n groot uitdaging gesels.

Die trane het geloop met hulle getuienis en ek glo dat dit 'n geweldige indruk moes maak op die mense. Jeanette het vertel hoe die Here die spirits so bitter gemaak het dat sy dit nie eers met koffie kon inkry nie en dit het haar lewe gered.

Die ander ding waarmee die Here met haar gepraat het is dat sy nie meer 'n ma vir haar kinders was nie. Hulle was baie keer honger en verwaarloos. Dan het albei 'n getuienis van 'n kragdadige bekering wat hulle lewens tot in die wese verander het. Hoe hulle ontdek het dat hulle nie kan nie, maar 'n Here dien wat deur Sy gees wonderwerke gedoen het. Genade onbeskryflik groot.

In die kar praat hulle oor baie seerkry in hulle lewens en hoe hulle nie daaroor kan kom nie. Ons praat van hoe mens vir die Here kan kwaad word en dat dit deel van ons verhouding met Hom is. Hoe eerliker ons is, hoe meer van ons hart kan ons met Hom deel en Hy wil deur die seerkry nader kom aan ons. Hy is nie veroordelend nie.

Ons besoek 'n huis van 'n jong man wat verslaaf is aan tik dagga en dra bende tattoeer merke. Hy wil graag bevry word daarvan, maar sy pa raak net kwaad vir hom en help hom nie. Ek sit in die sink huisie langs hom op die bed en bid vir hom en gesels eerlik soos net hulle kan doen. Hy kom agter ek is aan sy kant en ek dink dit is die grootste boodskap. Net soos ek aan sy kant is, is die Here ook aan sy kant. Hy deel die stryd met hom. Hy het die week vir die eerste keer reg gekry om nie saam met sy vriende se verslaafde partytjies toe te gaan nie, maar om by die huis te bly.


Handevat begin maar nou eers sy voete vind. Veral in die begin tyd, moet mens ure in vergaderings sit. Dit is baie bevrydend dat mens nou ook al meer met uitreike betrokke raak, want dit is daar waar ons as gemeentes iets kan ervaar van die nood rondom ons. Dit is onder andere daar waar ons leiers kan bystaan en die rimpelings van God se koninkryk kan sien beweeg.