As
sommige mense bid “Bewaar my, o God,” bedoel hulle eintlik “preserveer
my.” Om kos te preserveer is om dit vars te hou tot die vervaldatum op
die verpakking. Sommige wil hê die
Here moet dieselfde met hulle doen. Hy moet hulle ongebruik en
ongetoets deur die lewe laat gaan. Hulle moet ongeskonde by Hom aankom
wanneer hul aardse rakleeftyd verstryk.
Die
eerste Christene was nooit in die geestelike preserveringsbedryf nie.
Vat vir Paulus. Toe ‘n profeet genaamd Agabus in Handelinge 21 aankondig
dat hy in Jerusalem gevange geneem
gaan word, het Paulus se helpers besluit hy moenie soontoe gaan nie.
Paulus het dadelik geantwoord dat hulle hom nie met hul trane sag moet
maak nie. Hy was nie net bereid om gevange geneem te word ter wille van
die evangelie wat hy verkondig nie, maar om
ook hiervoor te sterf. Paulus het verstaan en verkies (!) dat die Here
hom kan “opgebruik”. Dit het nooit gegaan oor sy eie preservering of
selfbehoud nie. Hy wou nie sy lewe deurbring as ‘n lewende dreigement
wat heeltyd net dreig hy gaan nog eendag groot
dinge vir die Here doen nie. Hy het dit sommer elke dag gedoen. Hy wou
ook nie gedurig hoor hy het potensiaal in die Here se diens nie. Elke
aand teen slaaptyd het hy sy daaglikse porsie potensiaal tot eer van die
Here opgebruik.
Derduisende
mense plaas Sondae in die kerk “alles” op die altaar vir die Here.
Hulle teken in al wat ‘n aanbiddingslied is die beheer oor hul lewe aan
God af, net om dit haastig
terug te vat as hulle in die “normale” lewe aanland. Ten beste soek
vele eintlik net ‘n God wat uitblink in die preservering van sy aardse
bewonderaars.
George
L. Fox het begryp wat dit beteken dat die Here hom kan opgebruik. Hy
was ‘n kapelaan aan boord van die USAT Dorchester toe ‘n torpedo van ‘n
Duitse U-boot dit op 3 Februarie
1943 getref het. Matrose het in die see gespring en met
reddingsbootjies probeer wegkom. Toe kom vertel een van die soldate vir
Fox hy het nie ‘n reddingsbaadjie nie. Net daar gee Fox toe syne vir die
soldaat. Die drie ander kapelane het Fox se voorbeeld gevolg.
Terwyl matrose van die skip weggeswem het, het Grady Clark, een van die
oorlewendes, gehoor hoe die vier kapelane sing en hardop bid vir die
veiligheid van die soldate in die see. Self het hulle geen kans gehad
sonder hul reddingsbaadjies nie. Jesus se woorde
dat daar geen groter liefde is as wanneer mense hul lewe aflê vir ander
nie, kry in sulke tye nuwe betekenis.
Navolging
van Christus gaan oor die selflose weggee van jouself aan Hom en ander,
nie oor selfpreservering nie. Of oor die instandhouding van
godsdienstige instellings waar ‘n skadelose,
goed-voel-evangelie heers nie, en boonop teen ‘n winskoopprys wat mense
se geestelike sakke pas. Jy noem so iets geestelike narkose!
Christus
se helde is steeds mense soos die Samaritaan van Lukas 10 wat sy besige
program onderbreek het om sy hande vuil te maak met die bloed van ‘n
onbekende man langs die pad
wat onder rowers deurgeloop het. En wat sy beursie oopmaak om vir
hierdie man se sorg te betaal. Of Stefanus wat in Handelinge 7 bid dat
die Here sy vyande asseblief tog sal vergewe terwyl hulle hom met klippe
doodgooi.
Die uitdaging is nie om ongeskonde die ander kant te haal nie.
Dit
is om só te leef dat jy aan die einde van jou aardse reis die grootste
woorde ooit hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg. Jy was getrou
oor die bietjie wat Ek van jou verwag
het. Kom sit aan by die fees van die Here. Ek het vir jou plek gehou!”